Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 17:2-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. As ’n man of vrou onder julle in een van die dorpe wat die Here jou God aan jou gee, verkeerd opgetree het in die oë van die Here jou God; as so ’n persoon die verbond verbreek het

3. en ander gode aanbid het en gebuig het voor die son of maan of een van die ander hemelliggame, dinge wat Ek streng verbied het;

4. as dit vir jou vertel word of jy kom daarvan te hore, moet jy die saak deeglik ondersoek. As dit waar is dat die afskuwelike ding in Israel plaasgevind het,

5. moet die man of vrou na die poorte van die stad gebring word en daar met klippe doodgegooi word.

6. Jy mag nooit iemand op grond van die getuienis van net een persoon ter dood veroordeel nie. Daar moet altyd minstens twee of drie getuies wees.

7. Die getuies moet die eerste klippe gooi, daarna sal die res van die volk volg. So moet jy die kwaad uit jou midde uitroei.

8. “Dit kan gebeur dat ’n saak in ’n plaaslike hof vir jou te moeilik is om oor uitspraak te gee, soos oor moord, of ’n siviele saak, of oor aanranding. In so ’n geval moet jy na die plek gaan wat die Here jou God sal uitkies.

9. Hou dan die saak aan die Levitiese priesters voor of die regter aan diens. Hulle sal uitspraak lewer.

10. Tree volgens hulle beslissing daar op by die plek wat die Here sal kies. Doen presies wat hulle sê.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 17