Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 16:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Vier altyd die Paasfees tot eer van die Here jou God op die regte tyd in die vroeglente. Dit was die tyd toe die Here jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei het.

2. Jou paasoffer kan uit jou kleinvee of beestrop kom en moet geoffer word op die plek wat die Here jou God kies om sy Naam te eer.

3. Eet sewe dae lank brood waarin daar nie suurdeeg is nie. Hierdie brood sal jou lewenslank herinner aan jou swaarkry en toe jy haastig uit Egipte weg is.

4. Deur die hele land mag daar vir sewe dae lank geen suurdeeg in enige huis wees nie. Daar mag ook niks van die vleis van die paaslam tot die volgende môre oorbly nie.

5. “Die paasoffer mag nie geëet word in enige van die dorpe wat die Here jou God aan jou gee nie.

6. Dit moet geoffer word op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam te laat eer. Offer dit daar teen sononder ter herdenking aan julle uittog uit Egipte.

7. Braai die lam en eet dit op die plek wat die Here jou God sal kies. Gaan dan die volgende môre terug na julle huise toe.

8. Vir die volgende ses dae mag jy net brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Op die sewende dag moet die volk voor die Here jou God bymekaarkom. Op daardie dag mag jy glad nie werk nie.”

9. “Tel sewe weke af vandat jy met die graanoes begin het.

10. Vier dan die Fees van die Weke om die Here jou God te eer. Bring ’n vrywillige offer aan Hom in verhouding met die seën wat jy ontvang het.

11. Dit is ’n tyd om vrolik te wees in die teenwoordigheid van die Here jou God op die plek wat Hy sal kies waar sy Naam geëer sal word. Vier die fees saam met jou hele gesin, al jou slawe, die Leviete uit die dorpe, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees wat by jou is.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 16