Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:32-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. Selfs na alles wat Hy gedoen het, het julle nog bly weier om die Here julle God te vertrou.

33. Hy het voor julle uitgegaan om die beste staanplekke uit te soek. Snags het Hy julle pad met vuur verlig en bedags was daar ’n wolk oor julle.

34. “Toe die Here hoor hoe julle kla, het Hy kwaad geword. Hy het plegtig gesweer:

35. ‘Nie een van julle uit hierdie slegte geslag sal bly lewe om die goeie land wat Ek aan julle voorouers met ’n eed beloof het, te sien nie.

36. Net Kaleb, die seun van Jefunne, sal die land sien omdat hy die Here enduit gevolg het. Ek sal aan hom en sy nageslag ’n deel gee van die land waaroor hy geloop het toe hy die land verken het.’

37. “As gevolg van julle was die Here ook vir my kwaad. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal nooit die Beloofde Land ingaan nie.

38. Jou assistent, Josua, die seun van Nun, sal die volk die land inlei. Bemoedig hom in sy voorbereidings om die land in te trek.

39. Ek sal die land aan julle onskuldige kinders gee. Julle was bang dat hulle gevange geneem sou word, maar hulle sal die mense wees wat die land in besit sal neem.

40. Wat julle betref, draai nou om en gaan terug na die woestyn toe in die rigting van die Rietsee.’

41. “Toe het julle bely: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons sal die land ingaan en daarvoor veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle mans het toe julle wapens om julle vasgebind en gedink dit is maklik om die Bergwêreld te verower.

42. “Die Here het toe vir my gesê: ‘Sê vir hulle om nie aan te val nie, want Ek gaan nie saam met hulle nie. As hulle sou aanval, sal die vyand hulle verslaan.’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1