Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dit was in die eerste regeringsjaar van Ahasveros se seun Darius. Hy was ’n Mediër. Hy het oor die Babiloniërs regeer.

2. Tydens die eerste jaar van sy koningskap het ek, Daniël, die Skrifte van wat die Here vir die profeet Jeremia gesê het, nagegaan oor die tydperk wat Jerusalem vervalle sou lê. Dit sou 70 jaar wees.

3. Ek het toe voor God die Here gekom en gevas en gebid. Ek het sakke aangetrek en as oor my gestrooi.

4. Ek het vir die Here my God gebid en voor Hom my skuld bely. Ek het gebid: “Ag, Here, U is ’n groot en geweldige God. U hou by u verbond. U bly lojaal aan dié wat u bepalings navolg.

5. “Ons het gesondig en verkeerd gedoen. Ons het teen U oortree en van u bevele en gebooie afgewyk.

6. Ons het nie na u dienaars, die profete geluister nie. Hulle het namens U met ons konings, ons leiers, ons voorgeslagte en almal wat in die land woon, gepraat.

7. U is reg, Here. Ons staan vandag beskaamd voor U, ons almal wat aan Juda behoort en in Jerusalem woon, ons almal van Israel wat naby en ver is in al die lande waarheen U ons verban het omdat ons aan U ontrou was.

8. Here, ons is skaam omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers teen U gesondig het.

9. “Maar die Here, ons God, ontferm Hom oor ons en vergewe ons, selfs al het ons teen Hom in opstand gekom.

10. “Ons was nie gehoorsaam aan die Here ons God om te lewe volgens die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het deur sy knegte, die profete, nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 9