Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:29-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. U het daar op u bed gelê en dink oor die toekoms. God wat geheime bekendmaak, het u ingelig oor wat gaan gebeur.

30. Die geheim is vir my verklaar, nie omdat ek slimmer is as enigiemand anders nie, maar omdat God wil hê dat die koning moet verstaan waaroor hy gedink het.

31. “O Koning, wat u daar gesien het, was ’n groot beeld wat voor u staan. Dit was baie groot en blink en vreesaanjaend.

32. Die kop van die beeld was van fyn goud gemaak, sy lyf en arms van silwer, sy onderlyf en heupe van brons,

33. sy bene van yster en sy voete deels uit yster en deels uit klei.

34. Terwyl u daarna staan en kyk, het ’n klip sonder dat ’n mens daaraan geraak het, losgebreek en die beeld teen sy voete van yster en klei getref en dit verpletter.

35. Die hele beeld van yster, klei, brons, silwer en goud het inmekaargestort. Dit het geword soos kaf op die dorsvloer wat die wind wegwaai sonder dat daar ’n spoor daarvan oorbly. Die rots wat die beeld verpletter het, het ’n groot berg geword wat die hele aarde bedek het.

36. “Dit is wat u gedroom het. Ek sal nou vir die koning sê wat dit alles beteken.

37. U Majesteit, u is die koning van die konings. Die God van die hemel het vir u ’n koninkryk van mag en sterkte en aansien gegee.

38. Hy laat u regeer oor die hele mensdom, die diere in die veld en die voëls in die lug. Hy laat u oor dit alles regeer. U is daardie kop van goud.

39. “Ná u kom daar ’n koninkryk op aarde wat nie so groot soos u koninkryk is nie. Daarna kom ’n derde koninkryk van brons om oor die wêreld te regeer.

40. Daarna sal daar ’n vierde koninkryk kom wat so sterk is soos yster. Soos yster alles verpletter, so sal dit al die ander koninkryke vernietig.

41. Die voete wat van yster en klei gemaak is, wys op ’n koninkryk wat verdeeld is. Soos u yster daarin gesien het, sal dit iets van die sterkte van yster hê.

42. Soos die tone en voete deels van yster en deels van klei is, sal hierdie koninkryk deels sterk en deels swak wees.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2