Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:26-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Die koning vra vir Daniël, wat ook as Beltsasar bekend was: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?”

27. Daniël sê toe vir die koning: “Daar is geen raadgewer, besweerder, towenaar of sterrekyker wat die geheim vir die koning kan verklaar nie.

28. Die God van die hemel kan egter geheime verklaar. Hy het vir koning Nebukadnesar bekendgemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. “Die droom wat u gehad het en die gesigte wat u daar op u bed gesien het, is die volgende:

29. U het daar op u bed gelê en dink oor die toekoms. God wat geheime bekendmaak, het u ingelig oor wat gaan gebeur.

30. Die geheim is vir my verklaar, nie omdat ek slimmer is as enigiemand anders nie, maar omdat God wil hê dat die koning moet verstaan waaroor hy gedink het.

31. “O Koning, wat u daar gesien het, was ’n groot beeld wat voor u staan. Dit was baie groot en blink en vreesaanjaend.

32. Die kop van die beeld was van fyn goud gemaak, sy lyf en arms van silwer, sy onderlyf en heupe van brons,

33. sy bene van yster en sy voete deels uit yster en deels uit klei.

34. Terwyl u daarna staan en kyk, het ’n klip sonder dat ’n mens daaraan geraak het, losgebreek en die beeld teen sy voete van yster en klei getref en dit verpletter.

35. Die hele beeld van yster, klei, brons, silwer en goud het inmekaargestort. Dit het geword soos kaf op die dorsvloer wat die wind wegwaai sonder dat daar ’n spoor daarvan oorbly. Die rots wat die beeld verpletter het, het ’n groot berg geword wat die hele aarde bedek het.

36. “Dit is wat u gedroom het. Ek sal nou vir die koning sê wat dit alles beteken.

37. U Majesteit, u is die koning van die konings. Die God van die hemel het vir u ’n koninkryk van mag en sterkte en aansien gegee.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2