Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 10:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Dit was net ek, Daniël, wat hierdie gesig gesien het. Die mans wat saam met my was, het dit glad nie gesien nie. Hulle het skielik baie bang geword en weggehardloop om te gaan wegkruip.

8. Ek het toe alleen agtergebly en na hierdie visioen staan en kyk. Daar het nie ’n greintjie krag in my oorgebly nie. Ek het doodsbleek geword en daar het geen krag in my oorgebly nie.

9. Ek het die man hoor praat. Toe ek hoor hy praat, het ek flou neergeval en met my gesig op die grond gelê.

10. ’n Hand het my aangeraak en my op my hande en knieë gehelp. Ek het staan en bewe.

11. Hy het vir my gesê: “Daniël, man wat God baie liefhet, luister aandagtig na wat ek vir jou sê. Staan op jou voete! Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek al bewend regop gaan staan.

12. Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël. Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor. Ek het gekom in antwoord op jou gebed.

13. Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan. Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel. Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse.

14. Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur. Die visioen het met daardie laaste dae te doen.”

15. Terwyl hy hierdie dinge vir my gesê het, het ek afgekyk grond toe. Ek kon niks sê nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 10