Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Vandat Ek die Israeliete uit Egipte gelei het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. My huis was ’n tentwoning wat van plek tot plek verskuif het.

7. Ek het al die tyd saam met Israel getrek. Ek het nooit enigeen van die leiers wat Ek beveel het om die volk Israel te lei, gevra: Hoekom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?’

8. “Gaan en sê nou vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek het jou uit die weiveld, van agter die skape weggevat om oor my volk Israel te kom heers.

9. Ek was by jou oral waar jy gegaan het en Ek het al jou vyande vernietig. Ek het jou naam beroemd maak oor die hele aarde.

10. Ek het my volk Israel ’n vaste woonplek gegee, en hulle daar gevestig. Dit is ’n veilige plek waar hulle nie weer gesteur sal word nie. Bose mense sal hulle nie onderdruk soos in die verlede,

11. in die tyd toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te heers nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande.“‘Nou verklaar die Here dat Hy vir jou ’n koningshuis sal bou.

12. Wanneer jy sterf en by jou voorouers begrawe word, sal Ek een uit jou nageslag, jou eie seun, in jou plek koning maak en Ek sal sy koninkryk vas laat staan.

13. Hy sal tot eer van my Naam ’n huis bou en Ek sal sy troon bevestig vir altyd.

14. Ek sal vir hom soos ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees. As hy oortree, sal Ek hom bestraf deur mense en menslike middels.

15. Maar my troue liefde sal Ek nie van hom af wegneem soos Ek dit tot jou voordeel van Saul af weggeneem het nie.

16. Jou koningshuis en jou koninkryk sal vir altyd vasstaan en jou troon sal vir altyd voortbestaan.’”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7