Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dawid het 30 afdelings uitgesoekte soldate bymekaargemaak.

2. Hy en al die mense by hom het na Baäla in Juda gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die naam “die Here, die Almagtige, wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is.

3. Hulle het die ark van God op ’n nuwe wa gelaai en dit uit die huis van Abinadab op die heuwel weggevat. Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, het die wa vergesel.

4. Die ark van God was bo-op die wa, terwyl Agjo voor geloop het.

5. Dawid en al die mense van Israel het met oorgawe voor die Here gedans terwyl hulle sing en op allerlei musiekinstrumente gespeel het. Daar was liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.

6. Maar toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die osse gestruikel. Ussa het sy hand uitgesteek om die ark van God te keer.

7. Toe ontvlam die toorn van die Here teen Ussa en tref hom sodat hy daar langs die ark van God gesterf het.

8. Dawid was ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het. Hy noem toe die plek Peres-Ussa. Dit is nou nog die naam.

9. Dié dag het Dawid bang geword vir die Here en gevra: “Hoe kan die ark van die Here ooit na my toe kom?”

10. Dawid was toe nie meer bereid om die ark van die Here in die Dawidstad te laat inkom nie. Hy het dit eerder na die huis van Obed-Edom, die Gittiet geneem.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6