Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:3-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. so ook al sy manskappe met hulle gesinne. Hulle het in die omstreke van Hebron gaan bly.

4. Die leiers van Juda het na Dawid toe gekom en hom as koning oor Juda gesalf.Toe Dawid hoor dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het,

5. stuur hy vir hulle die volgende boodskap: “Mag die Here julle seën omdat julle getrou was aan julle koning Saul en hom begrawe het.

6. Mag die Here ook aan julle getrou wees en julle beloon met sy onfeilbare liefde! Ek sal julle ook beloon vir wat julle gedoen het.

7. Maar nou moet julle sterk en moedig wees, want julle koning Saul is dood. Neem kennis dat die inwoners van Juda my as hulle nuwe koning gekroon het.”

8. Maar Abner seun van Ner, die bevelvoerder van Saul se leër, het reeds met Saul se seun Is-Boset na Maganajim gegaan.

9. Daar het hy Is-Boset koning oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim, Benjamin en die res van Israel gemaak.

10. Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar regeer. Net Juda het hulle agter Dawid geskaar.

11. Dawid het Hebron sy hoofstad gemaak en van daar sewe en ’n half jaar oor Juda regeer.

12. Op ’n dag lei Abner die troepe van Is-Boset, seun van Saul, van Maganajim af teen Gibeon.

13. Joab, seun van Seruja, het met Dawid se troepe uit Hebron getrek en Abner by die Gibeondam ontmoet. Die twee groepe het weerskante van die dam stelling ingeneem.

14. Toe maak Abner ’n voorstel aan Joab: “Kom, laat ’n paar van ons soldate ’n vertoning gee van man-teen-man-gevegte.”“Goed, laat hulle dit doen,” stem Joab in.

15. Twaalf man uit elke kant, dié van Is-Boset en dié van Dawid, is gekies om teen mekaar te veg.

16. Maar elkeen het sy teenstander aan die hare gegryp en sy swaard deur die ander een se ribbes gesteek sodat almal van hulle gesterf het. Daarna is die plek die Veld van Swaarde genoem.

17. Daarna het die twee leërs mekaar aangeval. Teen die einde van die dag het Dawid se manskappe vir Abner en die leër van Israel verslaan.

18. Joab, Abisai en Asael, die drie seuns van Seruja, was ook daardie dag daar. Asael kon so vinnig soos ’n wildsbok hardloop,

19. en hy het Abner agternagesit. Hy het hom meedoënloos agtervolg.

20. Toe Abner omkyk, roep hy uit: “Is dit jy, Asael?”“Ja, dis ek,” antwoord hy.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2