Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:17-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. ’n Afdeling soldate uit die stam van Benjamin was saam met hom, en ook Siba, die bestuurder van Saul se eiendomme, saam met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het hulle na die Jordaanrivier gehaas om voor die koning daar te wees.

18. Hulle het deur die drif gegaan om die koning en sy huishouding deur die rivier te bring en hom op allerlei maniere te help.Die koning was op die punt om deur die rivier te gaan, toe val Simeï voor hom neer.

19. “Vergewe tog my oortreding, my heer,” pleit hy. “Moet asseblief tog nie dink aan die verskriklike ding wat ek gedoen het toe u Jerusalem verlaat het nie.

20. Ek weet dat ek baie gesondig het. Dis hoekom ek vandag die heel eerste persoon uit Israel is wat u kom ontmoet.”

21. Abisai seun van Seruja sê toe: “Moet Simeï nie net hier doodgemaak word nie? Het hy dan nie die gesalfde van die Here gevloek nie?”

22. Maar Dawid sê: “Wat moet ek met julle maak, seuns van Seruja, dat julle vandag soos ’n teenstander geword het? Dis nie ’n dag van teregstelling in Israel nie, want ek weet ek is weereens koning van Israel!”

23. Toe het hy vir Simeï met ’n eed belowe: “Jou lewe sal gespaar word.”

24. Mefiboset, Saul se kleinkind, het ook gekom om die koning te ontmoet. Hy het nie sy voete of sy klere gewas of sy baard geknip vanaf die dag dat die koning uit Jerusalem weg is totdat hy veilig teruggekom het nie.

25. Toe hy die koning in Jerusalem gaan ontmoet, vra die koning hom: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”

26. Mefiboset het geantwoord: “My heer die koning, my dienaar het my in die steek gelaat. Omdat ek kreupel is, het ek vir hom gesê: ‘Jy moet vir my die donkie opsaal sodat ek saam met die koning kan gaan.’

27. Hy het my boonop vals beskuldig, maar ek weet dat u soos ’n engel van God is. Doen dus met my wat u goedvind.

28. My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie. Tog het u my aan u tafel laat eet. Watter reg het ek dan om nog meer van die koning te verwag?”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19