Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:15-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Die koning het teruggekom en die Jordaanrivier bereik. Die mense van Juda het by Gilgal bymekaargekom om die koning terug te verwelkom en hom oor die rivier te begelei.

16. Simeï seun van Gera die Benjaminiet uit Bagurim het hom gehaas om koning Dawid saam met die mense van Juda te ontmoet.

17. ’n Afdeling soldate uit die stam van Benjamin was saam met hom, en ook Siba, die bestuurder van Saul se eiendomme, saam met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het hulle na die Jordaanrivier gehaas om voor die koning daar te wees.

18. Hulle het deur die drif gegaan om die koning en sy huishouding deur die rivier te bring en hom op allerlei maniere te help.Die koning was op die punt om deur die rivier te gaan, toe val Simeï voor hom neer.

19. “Vergewe tog my oortreding, my heer,” pleit hy. “Moet asseblief tog nie dink aan die verskriklike ding wat ek gedoen het toe u Jerusalem verlaat het nie.

20. Ek weet dat ek baie gesondig het. Dis hoekom ek vandag die heel eerste persoon uit Israel is wat u kom ontmoet.”

21. Abisai seun van Seruja sê toe: “Moet Simeï nie net hier doodgemaak word nie? Het hy dan nie die gesalfde van die Here gevloek nie?”

22. Maar Dawid sê: “Wat moet ek met julle maak, seuns van Seruja, dat julle vandag soos ’n teenstander geword het? Dis nie ’n dag van teregstelling in Israel nie, want ek weet ek is weereens koning van Israel!”

23. Toe het hy vir Simeï met ’n eed belowe: “Jou lewe sal gespaar word.”

24. Mefiboset, Saul se kleinkind, het ook gekom om die koning te ontmoet. Hy het nie sy voete of sy klere gewas of sy baard geknip vanaf die dag dat die koning uit Jerusalem weg is totdat hy veilig teruggekom het nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19