Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:12-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Julle is tog my familie, my bloedverwante. Hoekom is julle die laaste om die koning terug te bring?”

13. Dawid laat weet toe vir Amasa: “Is jy dan nie bloedfamilie van my nie? Voor God beloof ek dat ek jou permanent sal aanstel as aanvoerder van die leër in die plek van Joab.”

14. Op hierdie manier het hy almal in Juda oortuig en hulle het eenparig vir Dawid laat weet: “Kom terug na ons toe en bring almal saam wat by u is!”

15. Die koning het teruggekom en die Jordaanrivier bereik. Die mense van Juda het by Gilgal bymekaargekom om die koning terug te verwelkom en hom oor die rivier te begelei.

16. Simeï seun van Gera die Benjaminiet uit Bagurim het hom gehaas om koning Dawid saam met die mense van Juda te ontmoet.

17. ’n Afdeling soldate uit die stam van Benjamin was saam met hom, en ook Siba, die bestuurder van Saul se eiendomme, saam met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het hulle na die Jordaanrivier gehaas om voor die koning daar te wees.

18. Hulle het deur die drif gegaan om die koning en sy huishouding deur die rivier te bring en hom op allerlei maniere te help.Die koning was op die punt om deur die rivier te gaan, toe val Simeï voor hom neer.

19. “Vergewe tog my oortreding, my heer,” pleit hy. “Moet asseblief tog nie dink aan die verskriklike ding wat ek gedoen het toe u Jerusalem verlaat het nie.

20. Ek weet dat ek baie gesondig het. Dis hoekom ek vandag die heel eerste persoon uit Israel is wat u kom ontmoet.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19