Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:27-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. “Dit lyk vir my die eerste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” sê die wag.“Hy is ’n goeie man en kom met ’n goeie boodskap,” antwoord die koning.

28. Toe Agimaäs daar aankom, groet hy die koning en buig laag voor hom. Hy sê: “Geseënd is die Here u God wat die opstandelinge teen die koning in ons mag oorgegee het.”

29. “Is die jong man Absalom veilig?” vra die koning.Agimaäs antwoord: “Toe Joab vir my sê om te kom, was daar ’n groot rumoer, maar ek weet nie wat gebeur het nie.”

30. “Wag ’n bietjie hier eenkant,” sê die koning vir hom. Agimaäs het toe eenkant gaan staan.

31. Toe kom die Kussiet daar aan en hy sê: “Ek het nuus vir my heer die koning. Vandag het die Here u verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”

32. “Is die jong man Absalom veilig?” vra die koning. Die Kussiet het geantwoord: “Mag dit met al u vyande en met almal wat met bose planne teen u in opstand kom, gaan soos met daardie jong man.”

33. Die koning was oorstelp van droefheid. Hy het in trane uitgebars en opgegaan na sy kamer bokant die poort. So ver as wat hy loop, het hy geroep: “My seun Absalom! My seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18