Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. “My heer die koning,” antwoord sy, “laat enige skuld op my en my familie neerkom, want die koning en sy troon is onskuldig.”

10. “Moenie jou daaroor bekommer nie!” antwoord die koning. “As iemand hieroor met jou praat, bring hom na my toe. Hy sal jou nie weer pla nie!”

11. Toe sê sy: “Lê asseblief ’n eed af by die Here u God dat die bloedwrekers nie wraak op my seun sal neem en hom doodmaak nie.”“So waar as die Here leef,” antwoord die koning, “daar sal nie ’n haar van jou seun se kop val nie!”

12. “Mag ek net nog iets vir u sê?” sê sy.“Praat gerus,” moedig hy haar aan.

13. Sy het geantwoord: “Hoekom neem u dan ook wraak tot nadeel van die volk van God? Met hierdie uitspraak het u uself veroordeel, want u het geweier om u eie verstote seun weer huis toe te bring.

14. Almal van ons moet een of ander tyd sterf. Ons lewens is soos water wat op die grond gestort is en nie weer herwin kan word nie. Maar God wil nie ’n lewe neem nie. Hy beraam planne sodat die verstoteling nie van Hom verstote sal bly nie.

15. “Ek het na u toe gekom om vir my seun te pleit omdat ek bang was vir die mense. Ek het vir myself gesê: ‘Laat ek met die koning praat. Dalk sal hy iets aan my probleem doen.

16. Ja, die koning sal luister en my red uit die mag van die man wat my en my seun wil beroof van die erfdeel wat God ons gegee het.’

17. Ek het ook gedink: ‘Mag die uitspraak van die koning my gerusstel, want u is soos ’n engel van God wat tussen goed en kwaad kan onderskei.’ Mag die Here u God met u wees.”

18. “Ek wil net een ding weet,” sê die koning. “Jy moet dit nie wegsteek nie.”“Wat is dit, my heer?” vra sy.

19. “Is dit Joab wat jou hierheen gestuur het?” vra die koning.Die vrou antwoord: “My heer die koning, hoe kan ek dit ontken? Niemand kan iets vir u wegsteek nie. Ja, so waar as wat u lewe, Joab, u leërowerste, het my gestuur en het my vertel wat om te sê.

20. Hy het dit gedoen om ’n ander kant van die saak te stel. Maar u het wysheid soos ’n engel van God wat alles weet wat in die land gebeur!”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14