Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:18-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. “Ek wil net een ding weet,” sê die koning. “Jy moet dit nie wegsteek nie.”“Wat is dit, my heer?” vra sy.

19. “Is dit Joab wat jou hierheen gestuur het?” vra die koning.Die vrou antwoord: “My heer die koning, hoe kan ek dit ontken? Niemand kan iets vir u wegsteek nie. Ja, so waar as wat u lewe, Joab, u leërowerste, het my gestuur en het my vertel wat om te sê.

20. Hy het dit gedoen om ’n ander kant van die saak te stel. Maar u het wysheid soos ’n engel van God wat alles weet wat in die land gebeur!”

21. Die koning het Joab toe laat roep en sê vir hom: “Goed dan, ek sal maak soos jy vra. Gaan en bring die jong man Absalom terug.”

22. Joab het in eerbetoon voor die koning op die grond neergeval en gesê: “Die Here seën u. Nou weet ek dat u goedgesind is teenoor my, want u het my versoek toegestaan.”

23. Joab is na Gesur toe en het Absalom na Jerusalem toe teruggebring.

24. Maar die koning het beveel: “Absalom kan na sy huis toe gaan, maar hy mag nie voor my verskyn nie.” Absalom het na sy huis toe gegaan sonder om die koning te sien.

25. Daar was niemand in die hele Israel wat so aantreklik was en so bewonder is soos Absalom nie. Van sy kop tot sy tone het hy geen gebrek gehad nie.

26. Hy het sy hare een keer per jaar laat sny omdat dit te swaar geword het om te dra. Dit het meer as twee kilogram geweeg volgens die koninklike skaal.

27. Absalom het drie seuns en een dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was beeldskoon.

28. Absalom was twee jaar terug in Jerusalem sonder dat hy die koning gesien het.

29. Absalom laat roep toe vir Joab sodat hy hom na die koning toe kon stuur, maar Joab het geweier om te kom. Hy het dit ’n tweede keer gedoen, maar Joab wou weer nie kom nie.

30. Toe sê Absalom vir sy dienaars: “Kyk, Joab se grond lê langsaan myne en daar staan gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.” Absalom se dienaars het gemaak soos hy gesê het.

31. Hierdie keer kom Joab na Absalom toe en vra: “Hoekom het jou dienaars my gesaaides aan die brand gesteek?”

32. Absalom het geantwoord: “Kyk, ek het jou laat roep om die koning te vra hoekom hy my uit Gesur laat terugkom het as hy nie van plan was om my te sien nie. Ek kon maar netsowel daar gebly het. Laat my die koning sien. As ek skuldig is, moet hy my teregstel.”

33. Joab het toe vir die koning daaroor ingelig. Uiteindelik het Dawid sy vervreemde seun laat roep. Absalom het gekom en diep voor die koning gebuig, en Dawid het hom gesoen.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14