Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het toe die profeet Natan na Dawid toe gestuur. Hy het by Dawid gekom en vir hom vertel: “In ’n bepaalde dorpie was daar twee mans. Die een was ryk en die ander arm.

2. Die ryk man het troppe kleinvee en beeste besit.

3. Die arm man het niks besit nie behalwe ’n klein ooilammetjie wat hy gekoop het. Hy het haar versorg en saam met sy kinders grootgemaak. Sy het van die oorskietkos geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot gelê. Sy was vir hom soos ’n dogter.

4. Op ’n dag kom daar ’n besoeker by die huis van die ryk man aan. Hy wou nie ’n skaap uit sy eie kudde vang en as kos voorberei nie. Toe neem hy die arm man se ooilam, slag dit en berei dit voor vir die gas.”

5. Dawid was woedend. “So seker as wat die Here leef,” sê hy vir Natan, “die man wat dit gedoen het, verdien die dood!

6. Hy moet met vier lammers vergoed vir die ooilam wat hy gevat het en ook omdat hy geen medelye gehad het nie.”

7. Toe antwoord Natan vir Dawid: “Jy is daardie man! Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou tot koning van Israel gesalf en jou uit die mag van Saul gered.

8. Ek het sy huis vir jou gegee, asook sy vroue en die koninkryke van Israel en Juda. En, as dit nie genoeg was nie, sou Ek jou nog baie meer gegee het.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12