Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:27-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het.

28. “Indien daar ’n hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, sprinkaanplae en voetgangers, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al mag tref,

29. luister dan. Luister na die gebed en die smeking van enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek.

30. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen na verdienste, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan.

31. Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het.

32. “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam, u kragtige dade en u mag, as hulle na hierdie tempel toe bid,

33. hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is.

34. “As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het,

35. luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge en gee aan hulle die oorwinning.

36. “As hulle teen U sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby.

37. As hulle egter in daardie land van gevangenskap dalk in berou hulle tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’

38. luister tog na hierdie gebede. As hulle heelhartig en in opregtheid hulle tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het,

39. luister dan tog na hulle gebede uit u hemel waar U woon, en vergewe u volk wat teen U gesondig het.

40. “My God, kyk tog, en luister aandagtig na al hulle gebede in hierdie plek.

41. “En nou, Here God,kom na u rusplek,U en u magtige ark. Mag u priesters, Here God, geklee wees met redding, en mag u gelowiges juig in u goedheid.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6