Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 36:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar in Jerusalem regeer.

12. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God en het nie berou gehad toe Jeremia die profeet die woorde van die Here verkondig het nie.

13. Hy het ook teen koning Nebukadnesar in opstand gekom al het hy ’n eed van getrouheid voor God afgelê. Sedekia was hardkoppig en onversetlik en het geweier om terug te draai na die Here die God van Israel.

14. Al die leiers van die priesters en die volk het al meer ontrou geword. Hulle het die heidense praktyke van die omringende nasies gevolg en die tempel van die Here in Jerusalem, wat Hy geheilig het, ontheilig.

15. Die Here die God van hulle voorouers het herhaaldelik sy profete gestuur om hulle te waarsku, want Hy het medelye gehad met sy volk en sy woning,

16. maar hulle het met die boodskappers van God gespot, sy woorde geminag en sy profete uitgelag totdat die woede van die Here teen sy volk ontbrand het en daar vir hulle nie meer genesing was nie.

17. Die Here het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek. Hy het hulle jong mans in die heiligdom met die swaard afgemaai, en geen genade aan jong man of jong meisie, bejaardes of verswaktes betoon nie. God het hulle almal in Nebukadnesar se mag oorgegee.

18. Hy het al die voorwerpe in die tempel van God, groot en klein, die skatte van die Here se tempel en die skatte in die koninklike paleis en sy amptenare weggevat na Babel toe.

19. Hulle het die tempel van God aan die brand gesteek, die mure van Jerusalem afgebreek en die paleise verband, en elke ding van waarde vernietig.

20. Almal wat ontkom het aan die swaard, is na Babel toe geneem. Hulle het slawe van die koning en sy seuns geword totdat die Perse die mag oorgeneem het.

21. So is die boodskap van die Here vervul wat deur Jeremia gebring is. Die land het ’n sabbatsrus beleef toe dit 70 jaar lank ontvolk was soos die profeet gesê het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 36