Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 30:12-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Die hand van die God was egter oor die mense van Juda. Hy het hulle ’n eenheidsgevoel gegee sodat hulle die bevele van die koning en sy amptenare as die woord van die Here gehoorsaam het.

13. Gevolglik het ’n groot skare in Jerusalem bymekaargekom om die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood in die tweede maand te vier.

14. Hulle het die heidense altare uit Jerusalem verwyder en die wierookaltare in die Kedronvallei gegooi.

15. Op die veertiende dag van die tweede maand het hulle die paaslam geslag. Die priesters en Leviete het toe skaam geword, hulleself gereinig en brandoffers na die tempel van die Here gebring.

16. Hulle het hulle plekke in die tempel ingeneem volgens die bepalings van Moses, die man van God. Die Leviete het die bloed vir die priesters gebring en hulle het dit op die altaar gesprinkel.

17. Omdat baie van die mense nie hulleself gereinig het nie, moes die Leviete die paaslammers slag vir hulle wat nie seremonieel rein was en nie hulle lammers self aan die Here kon wy nie.

18. Die meeste van hulle wat uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon gekom het, het hulleself nie gereinig nie. Hulle het die paaslam geëet al was dit strydig met wat voorgeskryf is. Maar koning Hiskia het vir hulle gebid en gesê: “Mag die Here, wat goed is, elkeen vergewe

19. wat besluit het om God die Here, die God van hulle voorouers, te dien selfs al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.”

20. Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk genees.

21. Die Israeliete wat in Jerusalem byeen was, het die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank met vreugde gevier. Elke dag het die Leviete en priesters tot eer van die Here gesing, met begeleiding van musiekinstrumente wat aan die Here gewy is.

22. Hiskia het die Leviete geprys vir die goeie insig wat hulle getoon het tydens die diens van die Here. Die feesvierings het sewe dae lank geduur. Maaltydoffers is gebring en sondes is voor die Here die God van hulle voorouers bely.

23. Die hele vergadering het toe besluit om die fees vir ’n verdere sewe dae te verleng sodat hulle nog ’n week lank feesgevier het.

24. Hiskia, koning van Juda, het 1 000 beeste en 7 000 skape vir die vergadering gegee. Die leiers het ook 1 000 beeste en 10 000 skape gegee. ’n Groot getal priesters het hulleself gereinig.

25. Die hele vergadering van Juda het gejuig: die priesters, Leviete, die gemeente wat uit Israel gekom het, die uitlanders uit Israel, asook almal wat in Juda gewoon het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 30