Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:3-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Toe Amasia goed gevestig was as koning, het hy die mans tereggestel wat sy pa vermoor het.

4. Die kinders van die moordenaars het hy egter nie doodgemaak nie, want hy het opgetree volgens die voorskrifte van die Here in die boek van Moses: “Ouers moet nie doodgemaak word vir die sondes van die kinders nie; en kinders moenie doodgemaak word vir die sondes van hulle ouers nie. Hulle wat aan die dood skuldig is, moet vir hulle eie oortredings doodgemaak word.”

5. Amasia het die manskappe van Juda bymekaargeroep. Hy het die hele Juda en ook Benjamin volgens familiegroepe ingedeel onder bevelhebbers oor duisend en oor honderd. Hy het die manne van twintig jaar en ouer opgeroep. Daar was 300 000, almal geoefen in die gebruik van spiese en skilde.

6. Hy het ook met sowat drie en ’n half ton silwer nog 100 000 ervare soldate uit Israel gehuur.

7. Maar ’n man van God het na die koning gekom en gesê: “O koning, moenie soldate van Israel huur nie, want die Here is nie met Israel nie. Hy sal nie die mense van Efraim help nie.

8. As jy hulle saam met jou soldate in die geveg laat deelneem, sal julle verslaan word, maak nie saak hoe dapper hulle veg nie, want God het die mag om te help of om omver te werp.”

9. Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat dan van die drie en ’n half ton silwer wat ek betaal het om die soldate van Israel te huur?”Die man van God antwoord hom: “Die Here is in staat om baie meer as dit te gee!”

10. Amasia het toe die gehuurde troepe ontslaan en teruggestuur na Efraim toe. Hulle was baie kwaad vir Juda en is woedend huis toe.

11. Nogtans het Amasia moed bymekaargeskraap en sy leër na die Soutvallei gelei. Daar het hulle 10 000 Edomiete van Seïr doodgemaak.

12. Hulle het ook 10 000 van hulle gevang en van ’n krans afgegooi sodat hulle hulle onder op die rotse te pletter geval het.

13. Intussen het die gehuurde soldate wat Amasia huis toe gestuur het om nie saam met hom te veg nie verskeie dorpe van Juda tussen Samaria en Bet-Goron gestroop, 3 000 mense doodgemaak en baie buit saamgeneem.

14. Toe koning Amasia terugkeer van die neerlaag wat hy die Edomiete toegedien het, het hy ook afgodsbeelde saamgebring wat hy by die mense van Seïr gevat het. Hy het die beelde vir homself as gode opgestel, voor hulle neergebuig en offers gebring.

15. Dit het die Here baie kwaad gemaak en Hy het ’n profeet gestuur om vir Amasia te vra: “Hoekom het u gode van ’n volk aanbid wat nie eens in staat was om hulle eie mense uit u hand te red nie?”

16. Maar die koning het hom in die rede geval en gesê: “Wanneer het ek jou raad gevra? Bly stil voordat ek jou doodmaak!”Die profeet is daar weg, maar het hom gewaarsku: “Ek weet dat God besluit het om u tot niet te maak omdat u dit gedoen het en nie my raad aanvaar het nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25