Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 24:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Jojada het twee vroue vir Joas gekies. Hy het seuns en dogters gehad.

4. Met verloop van tyd het Joas besluit om die tempel van die Here te herstel.

5. Hy het die priesters en Leviete opgeroep en die volgende opdrag gegee: “Gaan dadelik na al die dorpe van Juda en samel die vereiste jaarlikse bydrae van die hele Israel in sodat ons die tempel van julle God kan herstel. Moenie versuim nie!” Die Leviete het egter nie dadelik gegaan nie.

6. Die koning roep toe vir Jojada die hoëpriester en vra hom: “Hoekom het jy nie geëis dat die Leviete uitgaan en die tempelbelasting in die dorpe van Juda en Jerusalem insamel nie? Moses, die dienaar van die Here, het hierdie belasting gehef op die gemeente van Israel om die tent van die getuienis te onderhou.”

7. Die volgelinge van die goddelose Atalia het destyds by die tempel van God ingebreek. Hulle het al die gewyde voorwerpe in die tempel van die Here vir die Baäldiens gebruik.

8. Joas het nou opdrag gegee dat ’n kis gemaak word en by die ingang na die tempel van die Here gesit moet word.

9. Hy het toe ’n bevel deur die hele Juda en Jerusalem gestuur dat die volk die belasting moes bring wat Moses, dienaar van God, in die woestyn van die Israeliete vereis het.

10. Dit het byval gevind by die leiers en die volk. Hulle het met blydskap die geld gebring en die kis daarmee vol gemaak.

11. Telkens wanneer die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Dan het die hofsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester die geld getel en die kis weer na die tempel toe teruggebring. Dit het dag na dag gebeur sodat ’n groot bedrag geld op dié wyse ingesamel is.

12. Die koning en Jojada het die geld aan die toesighouers oor die konstruksiewerk van die tempel van die Here gegee. Húlle het weer messelaars en skrynwerkers gekry om die tempel van die Here te herstel. Hulle het ook metaalwerkers gehuur. Hulle het voorwerpe van yster en brons gemaak vir die herstelwerk van die tempel van die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 24