Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:22-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg.

23. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig.

24. Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie.

25. Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel.

26. Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die Here geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word.

27. Daarna het al die mense van Juda en Jerusalem teruggegaan na Jerusalem toe. Josafat het hulle gelei en hulle was vol vreugde omdat die Here die oorwinning oor hulle vyande gegee het.

28. Hulle is terug na Jerusalem toe en na die tempel van die Here met die klank van harpe, liere en trompette.

29. Toe die omringende koninkryke hoor dat die Here self teen die vyande van Israel geveg het, het die vrees vir God oor hulle gekom.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20