Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 18:3-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. “Sal jy saam met my teen Ramot-Gilead optrek?” vra Agab, koning van Israel.Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek en jy is mos broers en my soldate is onder jou bevel. Ons sal jou sekerlik bystaan in die geveg.

4. Maar laat ons net eers vasstel wat die Here daaroor sê.”

5. Koning Agab het sy profete laat kom. Daar was 400 van hulle. Agab vra hulle toe: “Moet ons oorlog maak teen Ramot-Gilead of nie?”Hulle het geantwoord: “Gaan gerus, want God sal vir u die oorwinning gee!”

6. Maar Josafat vra: “Is hier nie ook ’n profeet van die Here nie, dat ons dieselfde vraag vir hom kan vra.”

7. Koning Agab antwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die Here se raad kan vra, maar ek haat hom. Hy voorspel altyd net slegte nuus vir my! Sy naam is Miga seun van Jimla.”“Jy moenie so praat nie,” sê Josafat. “Laat ons hoor wat hy sê.”

8. Die koning van Israel roep toe een van sy amptenare en sê: “Gou! Gaan roep vir Miga seun van Jimla.”

9. Koning Agab van Israel en koning Josafat van Juda, elkeen in sy koninklike kleed, het op hulle trone by die dorsvloer by die poort van Samaria gesit. Al Agab se profete het daar voor hulle bly profeteer.

10. Een van hulle, Sedekia seun van Kenaäna, het horings van yster gemaak en aangekondig: “Dit is wat die Here sê: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot hulle vernietig is!”

11. Al die ander profete het saamgestem. “Ja,” het hulle gesê. “Gaan na Ramot-Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad oor aan die koning.”

12. Intussen het die boodskapper wat gestuur is om Miga te gaan haal, vir hom gesê: “Kyk, al die profete belowe ’n oorwinning vir die koning. Maak seker dat jy met hulle saamstem en gee goeie nuus.”

13. Maar Miga antwoord: “So seker as wat die Here lewe, ek sal net sê wat my God sê.”

14. Toe Miga voor die koning verskyn, vra Agab vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot-Gilead optrek of nie?”Miga antwoord hom: “Gaan gerus! Die stad sal aan u oorgelewer word!”

15. Maar die koning het skerp gereageer: “Hoeveel keer moet ek jou beveel om onder eed niks anders as die waarheid in die Naam van die Here te sê nie?”

16. Miga sê toe vir hom:“Ek het in ’n visioen gesien dat Israel verstrooi is op die berge, soos skape sonder ’n herder.Die Here sê: ‘Hulle leier is doodgemaak. Laat elkeen in vrede na sy huis toe gaan.’”

17. “Wat het ek jou gesê?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy doen dit altyd! Hy voorspel nooit enigiets anders nie as net slegte nuus vir my.”

18. Miga het voortgegaan: “Luister na wat die Here sê! Ek het die Here sien sit op sy troon met al die hemelse leërs aan sy regterkant en aan sy linkerkant.

19. En die Here het gesê: ‘Wie sal koning Agab van Israel oorhaal om oorlog teen Ramot-Gilead te maak sodat hy daar kan omkom?’ Daar was baie voorstelle,

20. tot ’n gees na die Here kom en sê: ‘Ek kan dit doen!’“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 18