Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 15:6-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Volk het teen volk geveg, en stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring.

7. En nou, manne van Juda, wees sterk en moenie moedeloos word nie, want julle werk sal beloon word.”

8. Toe Asa hierdie boodskap hoor van die profeet, die seun van Oded, het hy moed geskep en al die afgodsbeelde in die land van Juda en Benjamin en in die dorpe wat hy in die Efraimsberge verower het, verwyder. Hy het die altaar van die Here wat by die ingang tot die tempel van die Here was, herstel.

9. Daarna het Asa die hele Juda en Benjamin bymekaargeroep, asook die inwoners van Efraim, Manasse en Simeon wat onder hulle kom woon het. Baie van hulle het gedurende Asa se regering na Juda toe verhuis omdat hulle gesien het dat die Here sy God met hom was.

10. Hulle het almal in die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa by Jerusalem bymekaargekom.

11. Op daardie dag het hulle sommige van die diere wat in die oorlog gebuit was aan die Here geoffer. Dit was 700 beeste en 7 000 kleinvee.

12. Toe het hulle met hart en siel ’n verbond met die Here die God van hulle voorouers gesluit.

13. Hulle het besluit dat enigiemand wat weier om die Here die God van Israel te dien, doodgemaak moet word, sou dit jonk of oud, man of vrou wees.

14. Hulle het die eed van trou aan die Here met trompetgeskal en die klank van ramshorings bekendgemaak.

15. Almal was bly oor die verbond, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Hulle het gretig die wil van die Here gesoek en Hy het Hom deur hulle laat vind. Die Here het hulle rus gegee van hulle vyande aan alle kante.

16. Koning Asa het selfs vir Maäka, sy ouma, as koninginmoeder onttroon omdat sy ’n walglike Asjerapaal gemaak het. Hy het die paal afgekap, dit fyngemaal en dit in die Kedronvallei verbrand.

17. Hoewel die heidense hoogtes nie heeltemal uit Israel verwyder is nie, was Asa sy lewe lank getrou aan die Here.

18. Hy het die silwer en goud en die gereedskap wat hy en sy pa gewy het, in die tempel van God gebring.

19. Daar was geen oorlog tot in die 35ste jaar van sy regering nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 15