Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:32-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. Toe Elisa daar aankom, het die kind nog dood op die profeet se bed gelê.

33. Hy het alleen ingegaan, die deur agter hulle twee toegemaak en tot die Here gebid.

34. Toe gaan lê hy op die seun met sy mond op dié van die seun, sy oë op die seun s’n en sy hande op die kind s’n. Die seun se liggaam het begin warm word!

35. Elisa staan toe op en stap ’n paar keer heen en weer in die kamer. Toe gaan lê hy weer op die seun. Hierdie keer het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!

36. Elisa beveel toe vir Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou!” Toe sy inkom, sê Elisa: “Hier, vat jou seun!”

37. Sy kom toe in, val voor hom neer en buig voor hom, oorstelp van dankbaarheid. Sy het haar seun opgetel en hom ondertoe gedra.

38. Elisa het teruggegaan na Gilgal toe. Daar was egter hongersnood in die land. Eendag, terwyl ’n groep jong profete voor hom sit, sê hy vir sy dienaar: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir die jong profete.”

39. Een van die jong mans gaan toe om kruie in die veld te soek. Hy kom af op ’n rank met wilde komkommers en pluk daarvan ’n sak vol. Toe hy terugkom, sny hy dit stukkend in die pot sonder dat hy geweet het wat dit was.

40. Hulle het die bredie opgeskep, maar nadat hulle ’n hap of twee geëet het, roep hulle: “Man van God, daar is gif in die bredie!” Hulle kon nie verder eet nie.

41. Elisa sê toe vir hulle: “Bring vir my ’n bietjie meel.” Hy neem dit, gooi dit in die pot en sê: “Nou is dit weer eetbaar. Gaan gerus aan met die ete.” Toe hulle dit eet, was dit nie meer sleg nie.

42. Op ’n dag bring ’n man van Baäl-Salisa vir die man van God ’n sak vars koring en twintig garsbrode van die nuwe oes. Elisa sê vir hom: “Gee dit vir die mense sodat hulle dit kan eet.”

43. “Wat?” sê sy dienaar. “Hoe kan ons 100 mense met so min kos gee?”Maar Elisa het herhaal: “Gee dit vir die mense sodat hulle kan eet, want die Here sê daar sal genoeg vir almal wees. Daar sal selfs nog oorbly!”

44. En sowaar, daar was genoeg vir almal en hulle het nog kos oorgehou, net soos die Here gesê het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4