Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 3:16-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Hierdie droë vallei sal met poele water gevul word.

17. Julle sal nie wind of reën sien nie, sê die Here, maar hierdie vallei sal vol water word. Julle sal genoeg hê vir julleself en vir julle beeste en ander diere.

18. Dis nog maar die minste wat die Here sal doen. Hy sal vir julle ook die oorwinning oor die leër van Moab gee.

19. Julle sal uitsoekstede verower, selfs die versterkte stede. Julle sal al die mooi bome afkap, hulle fonteine toestop en hulle landerye met klippe verniel.”

20. En dit was ook so. Die volgende dag teen die tyd van die oggendoffer het daar skielik water gekom! Dit het uit die rigting van Edom aangestroom sodat daar gou-gou oral water was.

21. Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Hulle het toe elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle al langs die grens laat stelling inneem.

22. Toe hulle die oggend opstaan, het die son oor die water geskyn sodat dit so rooi soos bloed gelyk het.

23. “Dit is bloed!” roep die Moabiete uit. “Die konings het mekaar aangeval en maak nou mekaar dood! Kom, laat ons die buit gaan plunder!”

24. Toe hulle die kamp van die Israeliete bereik, het die leër van Israel op hulle afgestorm en die Moabiete aangeval sodat hulle omgedraai en gevlug het. Die leër van Israel het hulle tot in die land van Moab agtervolg en op hulle pad alles vernietig.

25. Hulle het die stede verwoes, die landerye met klippe bestrooi deurdat elke manskap ’n klip daarop gegooi het. Hulle het ook die fonteine toegestop en al die bruikbare bome afgekap. Uiteindelik was net Kir-Geres oor. Maar die soldate met slingervelle het die stad omsingel en dit ingeneem.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 3