Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die tyd het aangebreek dat die Here vir Elia in ’n stormwind na die hemel toe sou opneem. Elia en Elisa was op pad van Gilgal af.

2. Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie!” Hulle het toe saam na Bet-El toe gegaan.

3. ’n Groep profete uit Bet-El het na Elisa toe gekom en vir hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy. “Bly net stil!”

4. Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam in Jerigo aangekom.

5. ’n Groep profete uit Jerigo het Elisa tegemoetgekom en hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy weer. “Bly net stil!”

6. Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaanrivier toe.”Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam verder gegaan.

7. Uit die groep profete het 50 mans ook saamgegaan en op ’n afstand, teenoor die plek waar Elia en Elisa by die Jordaanrivier was, gaan staan.

8. Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het weerskante toe verdeel sodat die twee droogvoets deur die rivier kon gaan.

9. Toe hulle oorkant aankom, sê Elia vir Elisa: “Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?”“Laat my asseblief ’n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,” antwoord Elisa.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2