Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:8-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Hulle het geleef soos die ander nasies wat die Here uit die land verdryf het sodat die Israeliete daar kon woon. Hulle het ook opgetree volgens die gebruike wat die konings van Israel ingestel het.

9. Die Israeliete het verder in die geheim dinge gedoen wat teen die wil van die Here was. In elke plek waar hulle gewoon het, van wagtorings tot vestingstede, het hulle afgodshoogtes gebou.

10. Hulle het bo-op elke heuwel en onder elke groen boom klippilare opgerig wat gewy is aan Asjera.

11. Hulle het op al die hoogtes wierook gebrand net soos die nasies wat die Here voor hulle uit verjaag het. Hulle het bose dinge gedoen wat die Here uitgetart het.

12. Hulle het afstootlike beelde aanbid ten spyte van die Here se uitdruklike waarskuwings.

13. Die Here het al sy profete en sieners gestuur om sowel Israel as Juda te waarsku: “Bekeer julle van julle bose lewenswyses. Luister na my opdragte en voorskrifte volgens al die gebooie wat Ek julle voorvaders beveel het en wat Ek deur my dienaars die profete aan julle bekendgemaak het.”

14. Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle was net so koppig soos hulle voorvaders wat nie op die Here hulle God vertrou het nie.

15. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het, verwerp en die rug gedraai op al sy waarskuwings. Hulle het waardelose afgode aanbid en het self waardeloos geword. Hulle het gelewe net soos die nasies rondom hulle hoewel die Here gesê het: “Moenie soos hulle maak nie!”

16. Hulle het al die gebooie van die Here hulle God geïgnoreer en vir hulle twee kalwerbeelde gegiet. Hulle het ook ’n Asjerabeeld gemaak, voor die hemelliggame gebuig en vir Baäl gedien.

17. Hulle het hulle eie seuns en dogters as offers laat verbrand en waarsêers en toekomsvoorspellers geraadpleeg. Hulle het hulleself oorgegee aan dinge wat vir die Here verkeerd is, en Hom so uitgetart.

18. Die Here was so ontevrede met Israel dat Hy hulle van Hom verstoot het. Net die stam Juda het oorgebly.

19. Maar ook Juda het geweier om die gebooie van die Here hulle God te gehoorsaam. Hulle het volgens die voorbeeld van Israel gelewe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17