Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe uit die tempel van die Here en die skatkamers van die paleis gevat en saam met gyselaars na Samaria toe geneem.

15. Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Ahasia van Juda is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

16. Toe Joas sterf, is hy in Samaria by die ander konings van Israel begrawe. Sy seun Jerobeam II het hom opgevolg.

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar gelewe.

18. Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se bewind is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

19. Daar is in Jerusalem teen Amasia saamgesweer sodat hy na Lakis gevlug het. Sy vyande het egter mense agter hom aan gestuur en hom daar doodgemaak.

20. Hulle het sy liggaam op perde na Jerusalem toe gebring en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad.

21. Al die mense van Juda het toe vir Asarja, die sestienjarige seun van Amasia, as koning gekroon in sy pa se plek.

22. Hy het die dorp Elat herbou en dit ná die betrokke koning se dood weer onder die mag van Juda gebring.

23. Jerobeam II seun van Joas het koning van Israel geword in die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia, seun van Joas in Juda. Jerobeam II het 41 jaar in Samaria regeer.

24. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel verlei het, laat vaar nie.

25. Jerobeam II het die gebiede van Israel tussen Lebo-Hamat en die see in die Jordaanvallei herower. Dit was net soos die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona seun van Amittai uit Gat-Gefer gesê het.

26. Want die Here het die bittere lyding in Israel gesien, en dat daar hoegenaamd niemand was wat hulle kon help nie.

27. Die Here het nog nie gesê dat Hy die naam van Israel heeltemal sou uitwis nie. Daarom het Hy Jerobeam II, seun van Joas, gebruik om hulle te red.

28. Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Jerobeam II, alles wat hy gedoen het, asook sy heldedade, sy oorloë en hoe hy Damaskus en Hamat, wat aan Juda behoort het, vir Israel herower het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14