Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 6:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die ark van die Here en die kis met die goue muise en swere is op die wa gelaai.

12. En sowaar, daar gaan die koeie reguit met die pad na Bet-Semes toe terwyl hulle loop en bulk! Die Filistynse heersers het hulle tot by die grens by Bet-Semes gevolg.

13. Die inwoners van Bet-Semes was besig om koring in die vallei te oes. Toe hulle die ark sien, het hulle gejuig.

14. Die wa het tot by die landerye van ’n man met die naam Josua gekom en by ’n groot rots gaan staan. Toe kap die mense die wa stukkend vir vuurmaakhout, slag die koeie en offer dit as ’n brandoffer vir die Here.

15. ’n Aantal manne uit die stam van Levi het die ark van die Here en die kis met goue muise en swere van die wa afgelaai en dit op die rots neergesit. Die mense van Bet-Semes het daardie dag baie brandoffers en ander offers vir die Here geoffer.

16. Die vyf Filistynse heersers het gesien wat gebeur het en het nog dieselfde dag na Ekron toe teruggegaan.

17. Die vyf swere wat die Filistyne as ’n skuldoffer aan die Here gestuur het, was geskenke van elkeen van die heersers van Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron.

18. Die goue muise het die vyf Filistynse stede en die omliggende dorpe waar die vyf heersers gesag uitgeoefen het, verteenwoordig. Die groot rots by Bet-Semes waarop hulle die ark van die Here neergesit het, is vandag nog te sien in die landerye van Josua as ’n herinnering aan wat daar gebeur het.

19. Die Here het egter 70 man van Bet-Semes laat sterf omdat hulle die ark van die Here bekyk het. Die inwoners het gerou omdat die Here so baie mense laat sterf het.

20. “Wie kan standhou in die teenwoordigheid van die Here, hierdie heilige God?” het hulle uitgeroep. “Waarheen kan ons die ark stuur?”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 6