Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Drie dae later, toe Dawid en sy manne in Siklag aankom, ontdek hulle dat die Amalekiete ’n strooptog in die Suidland uitgevoer het. Hulle het ook Siklag verower en tot op die grond toe afgebrand.

2. Hulle het die vroue en almal in die stad, klein en groot, as gevangenes weggevoer sonder om iemand dood te maak.

3. Toe Dawid en sy manne die ruïnes sien en besef wat met hulle families gebeur het,

4. het hulle gehuil totdat hulle nie meer kon nie.

5. Dawid se twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, is ook weggevoer.

6. Dawid was nou in groot moeilikheid, want sy manne was verbitterd omdat hulle hulle vroue en kinders verloor het. Hulle het begin sê dat hulle Dawid met klippe moet doodgooi. Maar die Here sy God het aan Dawid krag gegee.

7. Hy sê toe vir Abjatar die priester: “Bring vir my die skouerkleed!” Abjatar het dit gedoen.

8. Toe vra Dawid vir die Here: “Moet ek hulle agternasit? Sal ek hulle inhaal?”En die Here het geantwoord: “Ja, agtervolg hulle. Jy sal hulle sekerlik inhaal en almal red.”

9. Dawid en sy 600 man het hulle toe agternagesit tot by die Besorspruit. Sommige het daar agtergebly.

10. 200 van sy manne wat te moeg was om deur die spruit te trek, het agtergebly. Met die oorblywende 400 man het Dawid die agtervolging voortgesit.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30