Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:33-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. Geseënd is jy vir jou wyse optrede wat my verhinder het om bloed te vergiet en eiehandig wraak te neem.

34. Want so seker as die Here, die God van Israel leef, wat my weerhou het om jou kwaad aan te doen, as jy nie so gou na my toe gekom het nie, sou nie een van Nabal se manne teen môre-oggend nog gelewe het nie.”

35. Dawid aanvaar toe haar geskenke en sê vir haar: “Gaan gerus in vrede huis toe. Ek het na jou versoek geluister. Ek sal nie jou man doodmaak nie.”

36. Toe Abigajil by haar huis terugkom, was Nabal besig met ’n groot onthaal en het hy soos ’n koning feesgevier. Omdat hy dronk was, het sy vir hom niks gesê voor die volgende oggend nie.

37. Eers die volgende oggend toe hy nugter was, het sy hom vertel wat gebeur het. Toe hy dit hoor, het hy ’n hartaanval gekry sodat hy verlam was.

38. Omtrent tien dae later het die Here hom weer getref en het hy gesterf.

39. Toe Dawid van Nabal se dood hoor, sê hy: “Prys die Here wat Nabal vergeld het vir die onreg teenoor my en my verhinder het om dit self te doen. Nabal het hierdie straf oor homself gebring.” Daarna het Dawid boodskappers na Abigajil toe gestuur en gevra dat sy met hom moes trou.

40. Die boodskappers het by Karmel aangekom en vir Abigajil gesê: “Dawid het ons gestuur om te vra of jy met hom sal trou.”

41. Sy het opgestaan, laag na die grond toe gebuig en geantwoord: “Ja, ek is selfs bereid om ’n slavin te wees wat Dawid se manskappe versorg!”

42. Abigajil het toe gou klaargemaak en saam met Dawid se boodskappers gegaan. Sy het op ’n donkie gery terwyl vyf van haar diensmeisies saamgegaan het. So het sy Dawid se vrou geword.

43. Dawid het ook met Aginoam uit Jisreël getrou sodat hy nou twee vroue gehad het.

44. Intussen het Saul sy dogter Mikal, wat reeds Dawid se vrou was, vir ’n man met die naam Palti gegee. Hy was die seun van Lajis uit Gallim.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25