Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Saul het Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Daardie nag het Dawid gevlug.

11. Saul stuur toe soldate om wag te hou oor Dawid se huis en hom in die oggend dood te maak. Maar Dawid se vrou Mikal waarsku hom: “As jy nie vannag nog vlug nie, sal jy môre sekerlik doodgemaak word.”

12. Mikal het Dawid deur ’n venster laat afsak sodat hy kon wegkom en vlug.

13. Daarna neem sy ’n huisgod, laat lê dit op die bed met bokhaar by die kop en gooi dit toe met ’n kombers.

14. Toe die soldate kom om Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”

15. “Bring hom dan met bed en al sodat hy doodgemaak kan word,” sê Saul.

16. Die soldate het ingekom, en daar kry hulle ’n huisgod op die bed met bokhaar by die koppenent!

17. Saul sê vir Mikal: “Hoekom het jy my bedrieg deur my vyand te laat ontsnap?”Mikal antwoord: “Ek moes, want hy het gedreig om my dood te maak as ek hom nie help nie.”

18. Dawid het gevlug en by Samuel in Rama aangekom. Hy het hom alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Samuel en Dawid het toe in die profetekwartiere gaan woon.

19. Dis aan Saul vertel: “Dawid is in die profetekwartiere in Rama!”

20. Toe stuur Saul van sy mense om Dawid gevange te neem. Daar aangekom, sien hulle die groep mense wat met Samuel as leier soos profete optree. Die Gees van God kom toe oor Saul se boodskappers en hulle het self soos profete begin optree.

21. Dit is aan Saul meegedeel sodat hy ander boodskappers gestuur het. Hulle het egter ook soos profete opgetree. Saul het weer mense gestuur, maar dieselfde het ook met hulle gebeur.

22. Toe gaan hy self na Rama toe. By die groot opgaardam in Seku aangekom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”“Hulle is in die profetekwartiere in Rama,” was die antwoord.

23. Op pad daarheen het die Gees van God oor Saul gekom sodat hy tot in Rama soos ’n profeet opgetree het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19