Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:11-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang.

12. Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud.

13. Die oudste drie, Eliab, Abinadab en Samma, was soldate in Saul se leër.

14. Dawid was die jongste seun, terwyl die drie oudstes reeds in Saul se leër diens gedoen het.

15. Dawid het heen en weer beweeg tussen Saul en sy pa se skape wat hy in Betlehem moes versorg.

16. Vir 40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig.

17. Op ’n dag sê Isai vir Dawid: “Vat sestien kilogram gebraaide koring en tien brode na jou broers toe in die militêre kamp.

18. Gee hierdie tien stukke kaas vir hulle bevelvoerder. Kyk ’n bietjie hoe dit met jou broers gaan en bring iets saam om te bewys dat dit goed gaan met hulle.”

19. Dawid se broers was manskappe in Saul se leër wat in die laagte by die groot boom teen die Filistyne geveg het.

20. Dawid het vroeg opgestaan, die skape in die sorg van ’n ander herder gelos, die kos geneem en gedoen soos sy pa hom beveel het. Net toe hy daar aankom, het die manskappe met ’n oorlogskreet in gevegsorde uitgetrek

21. waar Israel en die Filistyne teenoor mekaar opgestel was.

22. Dawid het sy bagasie net so in die sorg van ’n oppasser gelos en hom na sy broers in die linie gehaas. Daar verneem hy na hulle welstand.

23. Juis toe kom Goliat, die uithalervegter van Gat, uit die Filistyne se linies na vore. Dawid het sy herhaalde uitdaging gehoor.

24. Toe die Israeliete Goliat hoor, het hulle weggehardloop omdat hulle vir hom bang was.

25. Die manskappe van Israel sê toe: “Het julle hom gesien? Elke dag kom hy uit om Israel te beledig. Die koning het ’n groot beloning aangebied vir enigeen wat die man sal doodmaak. Die koning sal een van sy dogters vir hom as vrou gee en sy hele familie sal van belasting vrygestel word!”

26. Dawid praat toe met die ander wat daar by hom staan. “Wat sal gebeur met die man wat hierdie Filistyn doodmaak en so ’n einde bring aan die skande oor Israel? Wie is hierdie onbesnyde Filistyn dat hy die leër van die lewende God so kan beledig?”

27. Dawid het dieselfde antwoord as vroeër ontvang: “Dit is wat sal gebeur met die man wat hom doodmaak.”

28. Maar Dawid se oudste broer het gehoor hoe hy met die manskappe praat en het kwaad geword. “Hoekom het jy hierheen gekom?” vra hy. “En by wie het jy daardie klompie vee in die wildernis gelos? Ek ken jou domastrantheid en vermetelheid. Jy wil net die geveg sien!”

29. “Wat het ek dan nou gedoen?” antwoord Dawid. “Ek het maar net ’n vraag gevra!”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17