Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:18-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Daarop sê Saul vir Agija: “Bring die skouerkleed hier!” Destyds het Agija die skouerkleed in Israel gedra.

19. Terwyl Saul nog met die priester praat, het die geraas in die Filistynse kamp al harder geword. Daarom sê Saul vir Agija: “Laat staan maar!”

20. Saul en sy 600 man het hulle na die gevegsfront gehaas. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak en daar was groot verwarring.

21. Selfs die Hebreërs wat voorheen die Filistyne gesteun het, het oorgeloop na die Israeliete wat by Saul en Jonatan was.

22. Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg.

23. So het die Here Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen.

24. Op dié dag is die manskappe van Israel totaal ooreis. Saul het op almal ’n eed gelê en gesê: “Vervloek is elkeen wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Gevolglik het niemand daardie dag iets geëet nie.

25. Hulle het ’n bos binnegegaan waar daar baie heuning was.

26. Toe die manne in die bos kom, het dit gedrup van heuning, maar niemand het sy mond daaraan gesit nie weens die eed wat hulle opgelê is.

27. Maar Jonatan was nie bewus daarvan dat sy pa ’n eed afgelê het nie. Hy steek toe die punt van sy stok in die heuning en eet daarvan. Daarna het hy sterker gevoel.

28. Een van die manskappe het gesien wat hy doen en sê: “Jou pa het die manskappe ’n streng eed laat aflê dat elkeen wat vandag iets eet, vervloek sal wees. Dis hoekom almal moeg en flou voel.”

29. “My pa het dit vir die hele land moeilik gemaak!” sê Jonatan. “So ’n bevel skep net probleme vir ons almal. Ek het nou sommer baie meer energie noudat ek hierdie bietjie heuning geëet het!

30. As die manskappe toegelaat is om van die kos te eet wat die vyand agtergelaat het, sou ons baie meer van hulle doodgemaak het!”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14