Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 11:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Hy neem toe twee osse, sny hulle in stukke en stuur dit met boodskappers deur die hele Israel en laat weet: “Dis wat sal gebeur met die beeste van elkeen wat nie saam met Saul en Samuel optrek nie!” Die skrik van die Here het die mense oorval en hulle het soos een man opgeruk.

8. Saul het hulle by Besek bymekaargemaak. Daar was 300 afdelings uit Israel en 30 afdelings uit Juda.

9. Saul het die boodskappers na Gilead toe teruggestuur met die woorde: “Ons sal julle môre op die middel van die dag kom verlos!” Daar was groot blydskap in die stad toe hulle hierdie boodskap hoor.

10. Die inwoners van Jabes laat weet toe vir hulle vyande: “Ons sal môre uitkom na julle toe en dan kan julle met ons maak soos julle wil.”

11. Vroeg die volgende môre het Saul sy leër in drie afdelings verdeel. Voor dagbreek het hy ’n verrassingsaanval teen die Ammoniete geloods en hulle tot die middag toe afgemaai. Die oorblyfsel van hulle leër was so verjaag dat daar nie twee van hulle bymekaargebly het nie.

12. Toe sê die volk vir Samuel: “Waar is daardie mense wat gesê het Saul moenie oor ons regeer nie? Bring hulle sodat ons hulle kan doodmaak!”

13. Maar Saul het geantwoord: “Niemand sal vandag tereggestel word nie, want die Here het Israel verlos!”

14. Daarna sê Samuel vir die mense: “Kom ons gaan almal Gilgal toe en herbevestig Saul se koningskap.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 11