Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:30-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog.

31. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en hy moet voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld kom aflê,

32. hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry.

33. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek,

34. luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle voorouers gegee het.

35. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het,

36. hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het.

37. “Indien daar hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, of treksprinkane, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al tref,

38. luister dan. Luister na die gebed en die smeking van die enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek.

39. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe en gryp in. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen wat hy nodig het, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8