Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Salomo het ook vir hom ’n paleis gebou. Dit het dertien jaar geneem om dit te voltooi.

2. Een van die geboue wat hy opgerig het, is die Libanonsbosgebou genoem. Dit was 50 meter lank, 25 meter breed en vyftien meter hoog. Dit het vier rye sederhoutpilare gehad waarop daar sederbalke gerus het.

3. Dit het ’n sederhoutdak gehad wat op 45 pilare gerus het, drie rye met vyftien in ’n ry.

4. Daar was drie rye vensters wat in groepe van drie teenoor mekaar aangebring was.

5. Al die deurkosyne was reghoekig. Hulle was in stelle van drie teenoor mekaar.

6. Salomo het ook ’n pilaargang gebou. Dit was 25 meter lank en vyftien meter breed. Voor was daar ’n voorportaal met ’n afdak wat op pilare gerus het.

7. Dan was daar die troonsaal, ook genoem die regsgebou, waar Salomo regsake verhoor het. Dit het van die vloer tot teen die plafon panele van sederhout gehad.

8. Salomo se paleis was aan die binneplein agter die troonsaal. Hulle is al twee op dieselfde manier gebou. Hy het ’n soortgelyke paleis vir sy vrou, die dogter van die farao, gebou.

9. Al hierdie geboue was van die fondament tot by die dak opgerig met goeie gehalte klip wat volgens presiese afmetings gekap en met ’n saag aan die voor- en agterkant afgewerk is.

10. Die fondamente is van groot, goeie gehalte klippe van vyf meter by vier meter gebou.

11. Bo-op was blokke klip van goeie gehalte, volgens maat gekap, asook sederhoutbalke.

12. Die mure van die groot voorhof is gebou van drie lae gekapte klip vir elke laag sederhoutbalke, net soos die mure van die groot voorhof van die Here se tempel en die voorportaal van die paleis.

13. Koning Salomo het Hiram van Tirus in diens geneem.

14. Hy was ’n vakman in bronswerk. Hy het oor die vaardigheid, begrip en kennis beskik om enigiets te maak wat aan hom opgedra was. Sy ma was ’n weduwee uit die stam Naftali en sy pa was ’n vakman in bronswerk uit Tirus.

15. Hiram het twee bronspilare gegiet, elkeen nege meter hoog en ses meter in omtrek.

16. Hy het ook twee kapitele uit brons gegiet om bo-op die pilare te sit. Elkeen was twee en ’n half meter hoog.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7