Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 4:19-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Geber seun van Uriin die Gileadstreekwaar Sihon koning wasvan die Amoriete,en Og die koning van Basan.Daar was net een bestuurder in hierdie streek.

20. Die inwoners van Juda en Israel was so baie soos die sand by die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en was gelukkig en tevrede.

21. Koning Salomo het regeer oor al die koninkryke vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne, en so ver suid as die grens van Egipte. Hierdie lande het belasting aan Salomo betaal en was aan hom onderdanig solank hy gelewe het.

22. Die daaglikse kosvoorraad vir Salomo se paleis was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel,

23. tien vetgemaakte beeste, twintig beeste uit die veld, 100 kleinvee, asook takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.

24. Salomo se ryk het al die koninkryke wes van die Eufraatrivier ingesluit, vanaf Tifsag tot by Gasa. Deur die hele landstreek het daar vrede geheers.

25. Gedurende die leeftyd van Salomo het Juda en Israel in veiligheid gelewe. Vanaf Dan in die noorde tot by Berseba in die suide het hulle veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom.

26. Salomo het 4 000 stalle vir sy strydwaens se perde gehad en 12 000 ryperde.

27. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar gesorg dat daar genoeg kos vir koning Salomo en sy hofhouding was.

28. Hulle het ook gars en hooi vir die ryperde en die trekperde op die bestemde plekke besorg.

29. God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee, en ook kennis wat soos die sand aan die see nie gemeet kan word nie.

30. Trouens, sy wysheid het dié van die wyse manne van die ooste en dié van Egipte ver oortref.

31. Hy was wyser as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet en Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Sy naam het bekend geword onder al die omliggende nasies.

32. Hy het 3 000 spreuke geskryf en 1 005 liedere gedig.

33. Hy kon met gesag praat oor bome en plante, van die groot seders van die Libanon tot die kleinste hisop wat uit die mure groei. Hy kon ook praat oor diere, voëls, reptiele en visse.

34. Mense het van oral af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het, het gesante gestuur.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 4