Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:24-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Toe gaan Sedekia seun van Kenaäna na Miga toe en slaan hom, deur die gesig. “Hoe het die Here se gees dan by my verbygegaan om met jou te praat?” vra hy.

25. Miga het geantwoord: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

26. Toe beveel die koning van Israel: “Arresteer Miga en vat hom na Amon, die burgemeester van die stad, en na my seun Joas toe.

27. Sê vir hulle die koning beveel: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom niks meer as brood en water totdat ek veilig van die oorlog af terugkom nie!’”

28. Maar Miga antwoord: “As die koning veilig terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder sê hy vir die omstanders: “Julle moet almal luister na wat ek gesê het!”

29. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het toe teen Ramot-Gilead opgetrek.

30. Koning Agab van Israel het vir Josafat gesê: “Voor ons begin veg, gaan ek my vermom. Jy kan gerus jou koninklike klere aanhou.” Die koning van Israel het hom toe vermom en so aan die geveg deelgeneem.

31. Die koning van Aram het die bevelvoerders van sy 32 strydwaens beveel: “Spits julle net toe op die koning van Israel! Moenie aan enigiemand anders klein of groot aandag gee nie.”

32. Toe die bevelvoerders van die strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Dit moet die koning van Israel wees!” en hulle het op hom toegesak. Toe het Josafat om hulp geroep.

33. Die bevelvoerders van die strydwaens het egter besef dat dit nie die koning van Israel was nie en het opgehou om hom te agtervolg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22