Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Toe Isebel die nuus kry, sê sy vir Agab: “Staan op en gaan lê beslag op die wingerd wat Nabot nie aan jou wou verkoop nie. Jy kan dit maar kry, want hy is dood!”

16. Agab het dadelik na die wingerd toe gegaan en dit vir hom gevat.

17. Die Here het toe vir Elia die Tisbiet gesê:

18. “Gaan na Agab toe wat in Samaria as koning van Israel regeer. Hy is in Nabot se wingerd, wat hy in besit geneem het.

19. Gee vir hom die volgende boodskap: ‘Dit is wat die Here sê: Is dit nie sleg genoeg dat jy Nabot doodgemaak het nie? Moet jy hom nou ook nog beroof?’ Sê verder vir hom: ‘Net daar waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde ook jou bloed oplek – ja, joune!’”

20. “So! Het my vyand my toe gekry?” vra Agab vir Elia.“Ja,” antwoord Elia. “Ek het jou gekry omdat jy jouself uitverkoop het om te doen wat vir die Here boos is.

21. Die Here sê: ‘Ek gaan ’n ramp oor jou bring en jou nageslag uitwis. Nie een van jou manlike afstammelinge in Israel, wie dit ook al is, sal dit oorleef nie!

22. “‘Omdat jy My getart en Israel laat sondig het, gaan Ek jou koningshuis uitroei soos Ek met Jerobeam seun van Nebat, en die koningshuis van Baesa seun van Agija gedoen het.’

23. “Oor Isebel het die Here gesê: ‘Die honde sal Isebel by die stadsmuur van Jisreël opvreet.’

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21