Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:9-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Agab sê toe vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir my heer, die koning: ‘Ek sal vir u alles gee waarvoor u die eerste keer gevra het. Aan die laaste eis kan ek egter nie toegee nie.’” Die boodskappers het teruggegaan en die antwoord oorgedra.

10. Ben-Hadad stuur toe die volgende boodskap vir Agab: “Mag die gode onheil oor my bring as daar nog genoeg stof van Samaria oorbly dat ek vir elkeen van my manskappe ’n hand vol kan gee.”

11. Die koning van Israel antwoord hom: “Hulle sê: ’n Soldaat wat nog aantrek vir die geveg moenie spog soos een wat alreeds oorwin het nie.”

12. Toe Ben-Hadad hierdie antwoord hoor, was hy en die ander konings besig om in die tente te drink. “Maak julle klaar om aan te val,” sê Ben-Hadad vir sy offisiere. Hulle het toe voorberei vir die aanval.

13. ’n Profeet het na koning Agab toe gekom en vir hom gesê: “Dit is die boodskap van die Here: ‘Sien jy hierdie groot menigte? Ek sal hulle vandag in jou mag oorgee. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.’”

14. Agab vra toe: “Hoe sal die Here dit doen?”Die profeet het geantwoord: “Dit is wat die Here sê: ‘Deur die jong soldate van die distrikshoofde.’”“Wie moet eerste aanval?” vra Agab.“U moet,” antwoord die profeet.

15. Agab het toe die jong soldate van die distrikshoofde opgestel. Daar was 232 van hulle. Hy het ook die res van sy leër van 7 000 man agter hulle opgestel.

16. Teen ongeveer die middag, terwyl Ben-Hadad en die konings van die 32 bondgenote nog besig was om in hulle tente te drink,

17. het die jong soldate van die distrikshoofde aan die voorpunt uit die stad opgeruk. Soos hulle naderkom, is Ben-Hadad ingelig: “Daar kom troepe uit Samaria.”

18. “Of hulle nou kom vir vrede of vir oorlog, vang hulle lewendig!” beveel Ben-Hadad.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20