Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:4-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. “Dis goed so, my heer,” antwoord Agab terug. “Ek en alles wat ek besit, behoort aan u!”

5. Ben-Hadad se boodskappers het weer by Agab gekom en gesê: “Ben-Hadad laat weet: ‘Ek het reeds geëis dat jy jou silwer en goud, jou vroue en kinders vir my moet gee.

6. Maar môre omtrent hierdie tyd stuur ek my amptenare om jou paleis en die wonings van jou onderdane te deursoek. Hulle sal alles vat wat jy as waardevol beskou.’”

7. Die koning van Israel roep toe al die leiers van die land bymekaar en sê: “Let op hoe hierdie man nou moeilikheid soek! Ek het reeds ingestem toe hy my vroue en kinders, my silwer en goud opgeëis het.”

8. Die leiers en die hele volk sê egter: “Moenie luister nie, en moenie toegewings maak nie!”

9. Agab sê toe vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir my heer, die koning: ‘Ek sal vir u alles gee waarvoor u die eerste keer gevra het. Aan die laaste eis kan ek egter nie toegee nie.’” Die boodskappers het teruggegaan en die antwoord oorgedra.

10. Ben-Hadad stuur toe die volgende boodskap vir Agab: “Mag die gode onheil oor my bring as daar nog genoeg stof van Samaria oorbly dat ek vir elkeen van my manskappe ’n hand vol kan gee.”

11. Die koning van Israel antwoord hom: “Hulle sê: ’n Soldaat wat nog aantrek vir die geveg moenie spog soos een wat alreeds oorwin het nie.”

12. Toe Ben-Hadad hierdie antwoord hoor, was hy en die ander konings besig om in die tente te drink. “Maak julle klaar om aan te val,” sê Ben-Hadad vir sy offisiere. Hulle het toe voorberei vir die aanval.

13. ’n Profeet het na koning Agab toe gekom en vir hom gesê: “Dit is die boodskap van die Here: ‘Sien jy hierdie groot menigte? Ek sal hulle vandag in jou mag oorgee. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.’”

14. Agab vra toe: “Hoe sal die Here dit doen?”Die profeet het geantwoord: “Dit is wat die Here sê: ‘Deur die jong soldate van die distrikshoofde.’”“Wie moet eerste aanval?” vra Agab.“U moet,” antwoord die profeet.

15. Agab het toe die jong soldate van die distrikshoofde opgestel. Daar was 232 van hulle. Hy het ook die res van sy leër van 7 000 man agter hulle opgestel.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20