Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:33-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. Die boodskappers het gou na hierdie strooihalm van hoop gegryp, en geantwoord: “Ja, Ben-Hadad ís u broer!”“Gaan haal hom dan,” sê die koning van Israel. Toe Ben-Hadad daar kom, het Agab hom genooi om op sy strydwa te klim.

34. Ben-Hadad sê vir hom: “Ek sal al die dorpe wat my pa van jou pa afgevat het, teruggee. Jy kan ook ’n handelsbuurt in Damaskus inrig soos my pa in Samaria gedoen het.”Agab sê toe: “As jy ’n ooreenkoms met my sluit, sal ek jou vrylaat.” Hulle het toe ’n ooreenkoms aangegaan en hy het Ben-Hadad laat gaan.

35. In opdrag van die Here het een profeet vir ’n ander een gesê: “Slaan my!” Maar die man het geweier om dit te doen.

36. Toe sê die profeet vir hom: “Kyk, omdat jy ongehoorsaam was aan die woord van die Here sal ’n leeu jou doodmaak sodra jy van my af weggaan.” Toe hy weggaan, het ’n leeu hom dan ook teëgekom en hom verskeur.

37. Daarna gaan die profeet na iemand anders en sê: “Slaan my!” Hy het so gemaak, hom geslaan en selfs verwond.

38. Die profeet het ’n verband oor sy oë gedraai om homself te vermom en langs die pad die koning ingewag.

39. Toe die koning verbykom, roep die profeet na hom en sê: “My heer, terwyl ek in die geveg was, bring iemand ’n gevangene na my toe. Hy het gesê: ‘Pas hierdie man op. As hy om enige rede ontsnap, sal jy vir hom moet instaan of ’n boete van 30 kilogram silwer betaal.’

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20