Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:7-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. “Wees goed vir die seuns van Barsillai uit Gilead. Laat hulle in jou huis bly, want hulle het my versorg toe ek voor jou broer Absalom moes vlug.

8. “Onthou ook vir Simeï seun van Gera, die man uit Bagurim in Benjamin. Hy het my vreeslik gevloek toe ek na Maganajim toe gevlug het. Toe hy my by my terugkeer by die Jordaanrivier kom ontmoet het, het ek voor die Here onderneem dat ek hom nie met die swaard sou doodmaak nie.

9. Maar hy is nie onskuldig nie. Jy is ’n wyse man. Jy sal weet hoe om hom in sy oudag met geweld te laat sterf.”

10. Daarna het Dawid gesterf en is in die Dawidstad begrawe.

11. Hy het 40 jaar lank oor Israel regeer, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem.

12. Salomo het sy pa, Dawid, opgevolg en het sy koningskap stewig gevestig.

13. Op ’n dag kom Adonia seun van Dawid en Gaggit na Batseba, Salomo se ma toe. “Kom jy in vrede?” vra sy.“Ja,” sê hy.

14. “Ek wil net met u praat. Trouens, ek wil u ’n guns vra.”“Praat gerus,” sê sy.

15. Hy antwoord: “Soos u weet, was die koningskap eintlik vir my bedoel, en almal het ook verwag dat ek die volgende koning sou wees. Maar sake het anders verloop en die Here het bepaal dat my broer koning moet wees.

16. Nou vra ek net een guns van u. Moet dit asseblief nie weier nie.”“Wat is dit?” vra sy.

17. Hy antwoord: “Praat asseblief met koning Salomo, want ek weet hy sal enigiets doen wat u vra. Vra hom om Abisag, die meisie uit Sunem, vir my as vrou te gee.”

18. “Goed,” sê Batseba. “Ek sal vir jou voorspraak doen by die koning.”

19. Batseba gaan toe na koning Salomo om Adonia se versoek te stel. Die koning het opgestaan om haar te ontmoet en het voor haar gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en beveel dat daar ’n troon aan sy regterkant vir sy ma neergesit word.

20. “Ek wil een klein gunsie van jou vra,” sê sy. “Ek hoop jy sal my nie weier nie.”“Wat is dit, Ma?” vra hy. “U weet ek sal u niks weier nie.”

21. “Laat dan toe dat jou broer Adonia met Abisag, die meisie uit Sunem, trou,” antwoord sy.

22. “Hoe kan u hoegenaamd vra dat ek Abisag vir Adonia gee?” roep Salomo uit. “U kan netsowel vra dat ek die hele koninkryk vir hom moet gee! U weet dat hy my ouer broer is en dat hy Abjatar die priester en Joab seun van Seruja aan sy kant het.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2