Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ’n engel het hom wakker geskud en vir hom gesê: “Staan op en eet!”

6. Hy kyk op en dáár sien hy by sy kop ’n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ’n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

7. Die engel het weer gekom, aan hom geskud en gesê: “Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.”

8. Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Die kos het hom genoeg krag gegee sodat hy 40 dae en 40 nagte lank tot by Horeb, die berg van God, kon loop.

9. Daar het hy by ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring.Maar die Here het met hom gepraat: “Wat maak jy hier, Elia?”

10. Elia antwoord: “Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

11. “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die Here vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die Here by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die Here. Tog was die Here nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die Here was nie in die aardbewing nie.

12. Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die Here was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis.

13. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy het by die ingang van die grot gaan staan.’n Stem het gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14. Hy het weer geantwoord: “Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en al u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

15. Toe sê die Here vir hom: “Draai net hier om en gaan na die woestyn van Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael salf tot koning van Aram.

16. Dan moet jy Jehu seun van Nimsi salf tot koning oor Israel. Jy moet ook Elisa seun van Safat uit Abel-Megola salf om jou as my profeet op te volg.

17. Dan sal sake só verloop: Die een wat Gasael se swaard ontvlug, sal Jehu doodmaak; en die een wat Jehu se swaard ontvlug, sal Elisa doodmaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19