Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die Here vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die Here by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die Here. Tog was die Here nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die Here was nie in die aardbewing nie.

12. Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die Here was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis.

13. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy het by die ingang van die grot gaan staan.’n Stem het gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14. Hy het weer geantwoord: “Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en al u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

15. Toe sê die Here vir hom: “Draai net hier om en gaan na die woestyn van Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael salf tot koning van Aram.

16. Dan moet jy Jehu seun van Nimsi salf tot koning oor Israel. Jy moet ook Elisa seun van Safat uit Abel-Megola salf om jou as my profeet op te volg.

17. Dan sal sake só verloop: Die een wat Gasael se swaard ontvlug, sal Jehu doodmaak; en die een wat Jehu se swaard ontvlug, sal Elisa doodmaak.

18. Nogtans sal Ek die 7 000 in Israel laat oorbly wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19