Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:29-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Hulle het die hele namiddag so aangehou totdat die tyd vir die aandoffer aangebreek het. Maar steeds was daar geen geluid nie, geen antwoord nie, niemand wat gereageer het nie.

30. Toe roep Elia die volk: “Kom nader!” Hulle het almal rondom hom kom staan terwyl hy die altaar van die Here wat afgebreek was, herstel het.

31. Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”

32. Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die Here reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou.

33. Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê.

34. Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het.

35. Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak.

36. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18