Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 17:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Die kraaie het soggens en saans vir hom brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

7. Na ’n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar het geen reën in die opvanggebied geval nie.

8. Toe sê die Here vir Elia: “Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ’n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

9. Elia het na Sarfat toe gegaan. By die poort van die dorp aangekom, sien hy ’n weduwee wat hout bymekaarmaak. Hy vra haar:

10. “Bring tog asseblief vir my ’n bietjie water om te drink!”

11. Terwyl sy wegloop om dit te gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring tog ook vir my ’n stukkie brood!”

12. Maar sy antwoord hom: “Ek verseker jou voor die Here jou God dat ek nie ’n stukkie brood in my huis het nie. Ek het net ’n hand vol meel oor in die kruik en ’n klein bietjie kookolie in die erdekan. Ek was juis besig om hout bymekaar te maak om hierdie laaste maaltyd vir my en my seun gaar te maak. Daarna moet ons maar sterf.”

13. Elia sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie! Gaan aan en doen soos jy sê, maar bak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit vir my. Daarna kan jy vir jou en jou seun sorg.

14. So sê die Here die God van Israel: ‘Die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die erdekan sal nie minder word nie totdat die Here weer oor die land laat reën het.’”

15. Sy het gedoen soos Elia gesê het. Voortaan het hulle al drie elke dag genoeg gehad om te eet.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 17